Wednesday, April 8, 2009

DAG 12: Willowmore na Oudtshoorn




Die laaste dag se skof is nogal 'n stywe ene teen 150km, en ons het dus besluit om om 'n vroë en vinnige skof in te sit sodat die res van die dag bietjie rustiger kan wees, en dat ons 'n billike tyd in Oudtshoorn kan arriveer.

Om 7uur het die 'pro' skof weggespring uit Willowmore met net een doel voor oë - om 80km so vinnig as menslik moontlik te voltooi. Die drom span het nie op hul laat wag nie, en dit was vinnig duidelik dat hierdie skof vir die dapper onder ons was. Teen 34.4km/h gemiddeld was ons net voor 10 nog net 30km van De Rust, en het die kosspan vir ons die ontbyt van kampione voorberei langs die pad. Die manne het gehyg na suurstof terwyl melksuur die na lood laat voel het.




Hier by 'n onbekende plaashek het ons egter besef dat die kwik behoorlik besig was om te rys, en die ouens op die pad het bitter swaar getrek onder die kwaai hitte. 'n Pap wiel het vir Uys 'n ruskansie gegee, maar 'vinnig' het die ondersteuningsspan hom weer op die pad gehad.









Munnik het soos oudergewoonte die agterhoede gedek, en vir Muppit 'n helpende hand hier en daar gebied. Met 10km oor na De Rust het Murphy weer besluit om sy aaklige kop uit te steek deur vir ons 'n wind van voor op te kook...vasbyt tyd!


Die laaste 30km van De Rust na Oudtshoorn is maar 'n seremoniële rit tot in die middel van KKNK waar almal vir oulaas ietsie vir die droë kele sal genuttig.



Klein Munnik sal dan ook sy toekenning ontvang vir die enigste lid van die toer wat al 1400km voltooi het!!! YSTER!!

Tuesday, April 7, 2009

DAG 11: Aberdeen na Willowmore


Die 8uur beplande wegspringtyd was weereens oorskry (maar jul verwag dit almal seker al teen hierdie tyd) en dit maak 'n lang dag soos hierdie net daai bietjie nog langer...in kom Corniel, Blommie en Jef toe, en met 'n gemiddeld spoed van 30km/h het hul vinnig die verlore tyd ingehaal, en ook sommer van die ervare fietsryers in die moeilikhied gehad met die hoë spoed.

By die eerste stop was dit duidelik sigbaar dat sommige van die manne nie die pas sal kan volhou vir nog 30km nie, maar nietemin het die drom span niemand 'n ruskans gegun nie. Villiers het koper gewys deur vas te klou aan die voorste manne, en die respek van 'n hele paar manne so gewen!!


Die swart polo het vir ons die middagete plek aangewys...'n regte karoo windpomp langs 'n stokou sement dammetjie met sommer 'n dik laag slik aan die onderkant. As gevolg van die spoed van die groep was die middagtete nog oppad, maar toe die eventueel opdaag is dit met 'n gejuig deur die rasende fietsryers gegroet.

Skof twee het sonder groot drama verloop - Rooiwillie se skoenveters het om sy trappe gekoek, maar was vinnig weer op die pad te danke aan die flink en effektiewe optrede van die ondersteuningsvoertuig.






Arnie het op die afdraende van die dag dit amper op die grond verloor...skoenmaker hou jou by jou lees:-) later verneem ons toe dat in die 'oomblik' het hy sy skouer ontwrig!! Eina!!






Die royal hotel het gesorg vir die fasiliteite en die kosspan het vir ons worsrolletjies voorsien en ons laaste vergadering het ons om 'n smeulende hardekoolvuur gehou...hoe dan nou anders;-)

DAG 10: Graaff Reinet na Aberdeen






Na 'n ontstuimige aand waar die wind amok gesaai het onder die tente, en die reën 'n paar ander uit hul hangmatte gejaag het, het ons ontwaak met ligblou hemele bo ons en net 'n ligte briesie. Na die vorige dag se stryd teen die wind was ons optimisties oor vdag se vooruitsigte...


'n Rustige en vullende ontbyt by Spur het ons wegspringtyd bietjie later verskuif, maar was verseker die moeite werd...ons skof was mos net 54km!!

Skaars by die dorp uit het ons probleme begin - een van die dromfietse se wiele het besluit om in te gee onder die krag van die 'brake-boosters' wat ons ingespan het om ons te help stop by daai passe af. Dus was die kosspan se oomblik van glorie maar van korte duur. Dit het egter nie vir kospa's Hein en Adriaan gekeer om elkeen 'n rit op Adriaan se nuwe fiets te vat nie. Nadat Hein die groep alleen van agter af ingery het, teen die wind, was hul albei in meer bekende waters, agter-op of binne-in die bakkies;-)

"Gelukkig", sê 'hulle' mos altyd, "as jou dag sleg begin kan dit net beter gaan later"
ai, hoe verkeerd was dit tog nie...

Met 'n magtige wind van voor (sterker as gister) en ou spike wat nou behoorlik dooie rus vat op die manne hier in die Camdebo distrik, was dit regitg 'n uiters harde skof. Die spoed het hier by 20km/h gebly vir die hele dag, en kort-kort het ons gestop vir verversings en iets te eet, want soos enigiemand wat al teen die wind gery het jou sal sê, dit is soos 'n nimmereindigende opdraende. Die groep het hulself egter baie goed van hul taak gekwyt, en met die einde in sig het hul vasgebyt om so om en by 3uur by Aberdeen in te strompel...


Weer was daar ietsie op die ys vir droë kele, en sommer dadelik het die kosspan begin met die aand se heerlike rooibok gereg.



Andre het gewerkskaf om die fietswaentjie te sorteer sodat al die fietse kan oppas vir die rit terug oor 3 dae, en sommer die landy uitgepak en oorgepak ook...

'n Paar manne het kings geniet, en kort voor lank was die kos reg, en die ouens het behoorlik hul vingers afgeëet aan die wildsvleis.
Die aand is afgesluit met een van die beste kontiki's wat drommedaris nog gesien het - die grappe was snaaks, die strawwe skerp en die pons behoorlik sleg! Floppies en sy aangenome seun, Vleisdas, was onskeibaar deur die loop van die verrigtinge, en Hardus het goed deurgeloop totdat hy stil-stil in die donker in weggesluip het...
More is weer 'n lang ene - die 120km van Aberdeen na Willowmore, maar dit is die 2de laaste dag, so daar behoort 'n klomp manne te wees wat die skof gaan aanpak...

laat die speke sing

Sunday, April 5, 2009

DAG 9: Middelburg na Graaff-Reinet

Met 'n vurige en gepaste boodskap deur Hardus was die manne reg vir nog 'n lang dag in die saal...maar hoe lank sou hul eers later uitvind.

'n Ompad deur die 'midde' stad het ons verseker dat almal daar van ons weet....al 12 mense!!

Net uit die dorp het elke fietsryer se nagmerrie ons moed in ons skoene laat sak, want die wind het behoorlik geroer...skuins van voor!! Die ouens op die pad het waarlik swaar gekry, en die feit dat ons ontbyt oorgeslaan het, het nie gehelp nie!? Kort-kort het ons gestop om 'n asem te vang, en om iets stewigs te eet, maar die wind het aanhou waai en knou aan die manne se bene!!



Teen die hange van Lootsbergpas het almal se bene meer na jellie en lood gevoel as spiere, maar van vasbyt weet Sonopers mos al lankal. Op 1781m bo seespieël het die wêreld maar klein, maar al te pragtig gelyk, en die ouens se hartspoed het die hoogtes in geskiet net deur na daai afdaende te kyk...teen 84km/h was die prag van die landskap net 'n vervaede prentjie vir die manne aan die stuur van die dromfietse, en hul spierwit kneukels het die storie van pure vreesaanjaende spoed vertel.
Aan die onderkant het ons skofte geruil, en dit was die 2de skof manne wat nou die wind moes trotseer. Weer het dit aan die manne se bene geknaag en kort-kort moes ons halt aanroep vir die voorste manne as ons die stert begin verloor het.

Naudebergpas was 'n "fillietjie" en voordat ons ons oë kon uitvee was ons bo, en die MAL afdraende was weereens 'n wenner vir die spoedvarke. Wessel het 'n toe geskenkie laat val, en transvalers oppad see toe het weer almal se bloeddruk die hoogtes in gejaag.


Doodmoeg en heeltemal uitgeput het ons by 'n lieflike groen grasperk in Graaff-Reinet opgedaag waar die ondersteuningsspan ietsie vir die keel op ys gehad het, reg vir die droë lippe.

Aandete in die Spur was 'n groot wenner...o ja, en die kos was lekker ook;-) môre oggend is ons weer daar vir ontbyt voordat die kortste skof van Drommedaris 2009 begin...die 53km na Aberdeen. Ons hou duimvas dat die wind sal gaan lê vanaand, maar al doen dit nie, is more mos maar net 'n dag oppad na KKNK.

DAG 8: Colesberg na Middelburg

Teen 7:30 was dit weer tyd om totsiens te sé vir die Colesberg rugby velde en matrasse. Dié is verruil vir die lang reguit  paaie van die karoo. Wit en swart springbokke het ons welkom geheet en 'n drie wille perde het ons vergesel teen die stylste opdraende van die skof. 

Die dag het glad verloop en daar was baie min onderbrekings. Daar was 'n grooterige val, toe ene Luan Fourie 'n papwiel gekry het. Hy het so groot geskrik dat hy voor sy semi-maatjie, Gerie Dirouw, in gery het en dié toe 'n stukkie teerpad gekoop het. Die ondersteuningspan was daar en het die stukkende plekke gedokter.

Hein het 'n nuwe taktiek uitgetoets op die DJ stoel en die ouens bietjie getart. Nie te min, hy het ook so 'n kleeeeeiiiin bietjie fiets gery en was sommer vinnig vergewe.

Die span het 'n goeie gemiddelde spoed van 30km/h gehandhaaf. Daar was 'n lekker stewige bult 10km voor middelburg, maar dit was afdraende al die pad van daar af. Daar was 2 benoude oomblike waar motoriste effens ongeduldig geword het en die manne in die Landy se senuwees getoets het. 

Op Middelburg het die ouens 'n lekker swem gevat. Hein het die heeeeeel grootste Belly-flop op aardbal gemaak. Die keurings komitee het hom 'n volle 10punte daarvoor toegeken. Almal het daarna soos dooies geslaap vir 'n goeie 2ure. Die aand het ons by Saddles gaan eet en die Sharks-Hurricanes wedstryd gekyk. Ivan Lategan het 'n plaaslike meisie uitgevat vir 'n romantiese aandjie terwyl die res van die ouens die aand deur gekuier, gesels en geslaap het. 

More is dit Graafreinett en 105km se karoo pad.

Friday, April 3, 2009

DAG 7: Trompsburg na Colesberg

Na gisteraand se rustige verblyf in die kerk se saal het die stowwerige grondpaaie van Trompsburg gedien as ons wegspring vir dag 7. Met DJ Floppies in volle swang het die humor hoogty gevuur en almal moes maar vir ou-leon liedjies luister...
Soos oudergewoontoe het die manne volspoed weggespring, en binnekort was die eerste 30km oppad na Phillipolis agter die rug!! Na 'n kort stop en ontspan het ons weer in die pad geval. Die nou paadjies het vir genoeg opwinding gesorg en die ryers moes bokstaan vir die groot trokke wat elke nou en dan wou verby! Die landskap was egter pragtig, met hier en daar 'n verdwaalde springbokkie of 'n trop skapies het dit behoorlik die manne se asems weggeslaan.
Phillipolis is al 'n gerugte stop op die Drommedaris kalender. Die mooi ou wit kerk in die hoof (en enigste) straat is die agtergrond van die tradisionele spanfoto! Die kosspan se teen die tyd al gerugte kaas en ham broodjies het weer geloop soos in die ou dae terwyl DJ Floppies onderhoude gevoer het met van die dorp se inwoners.
Met vars bene het die toer se tempo weer gelig, want die vooruitsig van 'n swem in die magtige Oranje was net te groot om te weerstaan. Die water was bruin en koud, maar met warm en tam lywe het almal dit geniet om so af te koel.
Ongelukkig daal mens af na 'n rivier toe...ai:-( na die stewige opdraande het die pad se oppervlakte totaal-en-al verbrokkel en die toer se spoed drasties afgeneem. Die klank bakkie se manne was darm ten volle op hul pos en bewus van die gevare wat die gate inhou!!
Ons kampplek op die skool se rugbyveld is bo-op die heuwel, en die laaste opdraende het 'n paar manne lelik geknak...
Vanaand se ete by die Blue Moon het goed afgeloop en Superwillie het selfs een sonder kaas gekry!?
More is nog 'n lang dag in die saal, maar teen die tyd is jou fiets baie meer jou huis as wat jy ooit kon dink!! Oormore is dit tyd vir die groot passe tussen Middelburg en Graaf-Reinet, en mens kan al die moeg en seer in party manne se gesigte sien...

Thursday, April 2, 2009

DAG 6: BLOEMFONTEIN NA TROMPSBURG

Dag 6 beteken dat die toer nou sy halfpadmerk bereik, en soos 'n soutie sal se "it's all downhill from here"

Na 'n Bloemfontein aand is dit maar altyd moeilik om die manne vroeg in die saal te kry, en vanoggend was geen uitsondering. Die 8uur beplande wegspringtyd het vroeg al uit die oog verdwyn, maar ons is geseen met 'n effe bewolke dag en al het die konvooi eers 9uur die hoofstad van die Vrystaat verlaat was dit 'n aangename oggend vir fietsry...net jammer die gekose DJ's vir was meer irritasie as vermaak!?! Te danke aan 'n geheime en brawe fietsryer is dit genadiglik na die 1ste breuk stopgesit!!

Binnekort het die wolke egter verdwyn en die naald weer begin styg...gelukkig kon 'n onbekende boer se plaasdam vir onmeetbare verligting sorg.

Die dorpie van Reddersburg het gedien as ons halfpad stop, eet en omruil herberg, want teen die tyd was ou spike behoorlik op die aanval en Hardus het 41C gemeet!!! 'n Bietjie skadu en 'n paar bottels coke later was die manne weer reg om te laat waai...ongelukkig het die wind dit ook gedoen, en op 'n stadium die drom se spoed tot onder 20km/h laat daal. Die weerlig was egter pragtig teen die dalende son en die reen volkome verligting vir die fietsryers se dorre liggame.


Vanaand neem ons weer Trompsburg behoorlik op horings. Die dorpie se enkele teerpad het gewemel van Sonopers in stowwerige klere oppad na Sonskyn kafee se alombekende kaasburger en slaptjips. Die kerk se saal is ons huis vir nog 'n aand op die pad...braaibrood en skaaptjops is op die spyskaart, en so seker soos wat die dorre karoo oppad is, gaan die manne almal vanaand diep slaap!
tot more...